|
Biography Afrikaans
Sign our Guestbook / View our Guestbook
Gebore in 1943 in Chemnitz, Duitsland, immigreer Dietmar in 1964 na Suid-Afrika. Opgelei as ‘n professionele sjef, werk hy 35 jaar in 4 en 5 ster hotelle in Europa, Indiese Oseaan Eilande en Suid-Afrika. Hy was die Uitvoerende Sjef van die beroemde St Geran Hotel, Mauritius en gedurende die eerste twee jaar wat die hotel in bedryf was, het Dietmar vir die eerste keer ys- en botterbeelde aan die mense op die eiland bekend gestel. Van sy mees uitgelese studente het nou top posisies by hierdie “Wêreld se beste oord hotel” en op ‘n daaglikse basis gaan hulle voort om met trots hul meester se kuns te beoefen. Dietmar het baie lof ontvang vir sy fynproewer geregte, in besonder vir sy pragtige kos uitstallings, botterbeeldhouwerk en ysbeelde. Op hierdie gebied het hy verskeie goue medaljes en toekennings by plaaslike en internasionale sjef kompetisies gewen. Met die ontdekking van hierdie talent en die vermoë om beweging en vitaliteit van wildlewe in ‘n drie dimensionele vorm vas te vang, besluit hy om hierdie belangstelling verder te ontwikkel en leer hy homself om van hierdie stukke in brons te giet. Na die eerste eksperimente het hy weg beweeg van die hotel industrie na die ryk van formele beeldhouer en is hy ‘n voltydse gevestigde kunstenaar sedert 1990. Hy vervolmaak ‘n hoogs persoonlike manier van vorm en eenvoud in sy werk, en daardeur beperk hy sy werke tot die essensiële en tog word die intensiteit van sy werk juis deur hierdie eenvoud weerspieël. Hierdie werke van Dietmar is nie die eentonige werke wat so dikwels gesien word nie, aangesien elke stuk ‘n lewe van sy eie het, soms peinsend, soms parmantig, ander weer arrogant of ‘n kombinasie van die bogenoemde, maar almal het ‘n intrensieke beeldhouwaarde wat mens meer gee as wat met die eerste oogopslag waargeneem word. Dietmar het sy eie gietery gebou en is baie trots op die feit dat hy al sy werk eiehandig giet. Hy gebruik baie hoë kwaliteit brons en giet in die verlore was prosedure sowel as die nuwe hoogs effektiewe keramiek skulp tegnologie. Dietmar se werke word maklik geidentifiseer deur die uitmuntende monterings en tegnieke en deur sy eie verreikende verkleuring. Voëls en die marine lewe, waarvoor hy so lief is, was die oorspronklike temas van sy eksotiese kosbeelde. Dit was dan ook heel natuurlik dat hy hierdie liefde in sy bronsbeelde sal reflekteer. Alhoewel Dietmar bekend is vir sy voël- en marinebeelde, begin hy nou in die rigting van figuurlike en abstrakte beelde en skilderye beweeg. Sy belangstellings is skubaduik, marinebiologie en ornitologie. Hierdie intense belangstelling en waarneming van hierdie diere, word duidelik gereflekteer in die eenvoudige dog elegante vorms van voëls en visse. Sy stokperdjies is kook (eet), binnenshuisversiering en buitengewone ontwerpe en geboue vir die huis en tuin, die versamel en restourasie van ou klassieke motorvoertuie, antieke horlosies en kombuis gereedskap en die bewaring van varswater-en seevisse. Professor Mike Burton, voorheen van die wêreld bekende JLB Smith Instituut van Ichtiologie van Grahamstad, het Dietmar krediet gegee vir die akkuraatheid van sy marine lewe beelde en die styl waarin hy werk, en beskou Dietmar as die leier op die gebied van vis beeldhouwerk in Suid-Afrika. Sy beelde wissel van ‘n langneus vlindervis, ‘n gewone mako haai, ‘n pre-historiese selekant, ‘n bisarre leeuvis en ‘n lewensgrootte seilvis. Omdat skubaduik een van sy belangstellings is, en die feit dat hy al by die Groot Skeidingsrif geduik het, is dit vir hom tot groot voordeel om sy werk te bestudeer, films te maak en foto’s te neem bo en onder die water. As ‘n toegewyde natuurbewaarder, het Dietmar die volgende stelling gemaak: “Ek is bekommerd oor die bewaring van alle natuurlewe, spesifiek my geliefde voëls en alle marine lewe. Dit is aaklig om te sien hoe damme en riviere al hoe meer besoedel raak. Die ganse wêreld is besig om die oseane as stortterreine vir toksiese afvalmateriaal te gebruik. Mens kan skaars glo dat die mens stadig maar seker besig is om al hierdie pragtige kreature uit te wis. Ons kinders sal nie die voorreg hê om baie van hierdie spesies lewendig te sien nie. As ‘n kunstenaar het jy die drang om die mooi van al ons bedreigde diere op doek en in beelde te verewig.” Dietmar se beelde is by talle private- en korporatiewe versamelaars te sien in Suid-Afrika sowel as Amerika, Duitsland, Frankryk, New Zeeland, Hong Kong, Brittanje, Mauritius, Australië, Singapore, Rusland, Denemarke, Italië, Kanada, Maleisië, Portugal, Spanje en Switserland.
If you would like to exchange links with us, please visit our links page
|
|